ONTVANKLIKE GEMOEDERE, SKOON ENERGIE, ‘N BLINK TOEKOMS |
November 2019
Die Kangnas-windkragaanleg, wat tans gebou word, het ‘n bewusmakingsveldtog by sekondêre skole van stapel gestuur om leerlinge aan die basiese beginsels van hernubare energie bekend te stel. Die veldtog leer honderde hoërskoolleerlinge oor die opwekking van skoon energie en werksgeleenthede in die hernubare energie bedryf.
Die doelwitte van die program sluit opvoeding en bewusmaking rondom windenergie in en wil jongmense aanmoedig om beroepe in die veld van hernubare energie te oorweeg. Dit leer leerlinge ook meer oor die konstruksiefase van windkragaanlegte en hoe die gemeenskap tydens konstruksie en daarna sal baat uit die windkragaanleg op hul voorstoep.
Die Kangnas-windkragaanleg het in Mei vanjaar die veldtog van stapel gestuur en sal voortgaan om skole in die Springbok-omgewing te besoek tot Maart 2020.
“Ons span vir ekonomiese ontwikkeling wil ’n belangstelling in Wiskunde en Wetenskap by leerlinge aanwakker sodat hulle eendag ’n loopbaan in die hernubare energiebedryf of ingenieurswese kan volg. Die bewusmakingsveldtog vul leerlinge se akademiese kurrikulum aan en geniet ondersteuning van onderwysers en leerlinge,” sê Cheryl Persensie, bestuurder vir ekonomiese ontwikkeling by die Kangnas-windkragaanleg.