VROUE LEER PRAKTIESE VAARDIGHEDE VIR DAAGLIKSE ONAFHANKLIKHEID

Augustus 2026

’n Groep vroue van Springbok het onlangs aan ’n praktiese werkswinkel deelgeneem wat daarop gemik was om hul selfvertroue en onafhanklikheid in die alledaagse lewe te bou. Hulle het vaardighede soos basiese elektriese herstelwerk, huisinstandhouding, voertuigsorg en persoonlike veiligheid geleer.

Die werkswinkel het veral aandag gegee aan enkellopende vroue en moeders wat op hul eie woon. Dit het take gedek wat dikwels as manswerk beskou word: die herstel en vervanging van ’n deurslot, die verwisseling van ’n veiligheidsprop, die omruil van ’n motorband, hoe om ’n motor veilig met hulpkabels aan die gang te kry, en basiese selfverdediging.

Vir deelnemer Luzelle Cloete het die dag meer opgelewer as net die vaardighede self.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid om deel te wees van hierdie werkswinkel. Dit het vir ons meer as net praktiese vaardighede gegee – dit het ons selfvertroue gebou en ons herinner dat ons as vroue uitdagings kan trotseer en op onsself kan staatmaak. Met die regte kennis en selfvertroue kan ons meer doen vir onsself, ons gesinne en ons gemeenskappe,” het sy gesê.

Elke deelnemer het met ’n vaardigheidshandleiding, ’n basiese gereedskapkis en ’n selfverdedigingstel huis toe gegaan – praktiese hulpmiddels om verder te bou op wat hulle geleer het.

Die sessies is deur plaaslike kundiges aangebied. Die eienaar van JLK Business Consulting het basiese voertuiginstandhouding behandel. ’n Gekwalifiseerde elektrisiën en eienaar van Imini Electrical het deelnemers deur basiese elektriese vaardighede en veilige herstelwerk gelei, terwyl ’n ervare karate-instrukteur met ’n swart belt die selfverdedigingsopleiding behartig het.

“Ons hoop dit maak ’n praktiese en blywende verskil vir die vroue wat deelgeneem het – dat dit vir hulle die selfvertroue en vaardighede gee om alledaagse uitdagings meer onafhanklik te hanteer. Ons sal ook graag wil sien dat hulle dit wat hulle geleer het aan hul gesinne en gemeenskappe oordra, sodat die impak aanhou groei,” het Rouchet Daniels, Bestuurder van Maatskaplike Programme, gesê.

Die werkswinkel is moontlik gemaak deur die Kangnas-windkragaanleg se Ekonomiese Ontwikkelingsprogram. Dié program ondersteun onderwys, vaardigheidsontwikkeling en gemeenskapsinisiatiewe in die plaaslike gemeenskap van Springbok.