INFRASTRUKTUURPROJEK BRING TRANSFORMATIEWE IMPAK |
Julie 2023.
’n Gemeenskapsondersteuningsprojek wat daarop gemik is om die infrastruktuur en algehele leeromgewing by Laerskool Carolusberg, in Springbok te verbeter, het suksesvol voltooiing bereik. Die projek, wat in 2022 begin het, het belangrike instandhoudingswerk en infrastruktuuropgraderings ingesluit om gesondheid en veiligheid binne die skoolperseel te bevorder.
“Met erkenning van die rol wat die fisiese skoolomgewing speel in leerderopvoedingsuitkomste – veral in die bevordering van beter onderrig en die vermindering van uitvalsyfers, het ons met die Laerskool Carolusberg saamgewerk om die geïdentifiseerde infrastruktuurbehoeftes by die skool aan te spreek. Hierdie impakvolle inisiatief het gehelp om die skool te transformeer en bied ‘n veilige hawe vir beide leerders en onderwysers – met toevoegings soos ‘n groter gemoderniseerde kombuis vir maaltydvoorbereiding,” sê Rouchet Daniels, Ekonomiese Ontwikkelingsbestuurder van Kangnas-windkragaanleg, wat hierdie projek befonds het.
Die eerste fase van die projek het ‘n omvattende opknapping van die skoolgebou ingesluit, insluitend die verf van die perseel, die vervanging van fassiebord en die installering van diefwering vir die veiligheid en sekuriteit van die skoolgemeenskap.
Die tweede fase het gefokus op die uitbreiding van die skoolkombuis en die installering van ‘n watertenk en pype, om ‘n betroubare watertoevoer na die toilette te verseker, veral tydens wateronderbrekings.
Twee plaaslike kontrakteurs het ywerig gewerk om die suksesvolle uitvoering van elk van die fases te verseker.
Skoolhoof Xavier Diergaardt by Laerskool Carolusberg het dank uitgespreek teenoor Kangnas-windkragaaneg vir hul ondersteuning. Hy het opgemerk: “Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat Kangnas-windkragaanleg aan die skool gebied het en gevolglik kan die gehalte van onderrig en leer verbeter. Die skool is ook ‘n baie veiliger omgewing, en met die uitgebreide kombuis het die kinders nou ‘n veilige plek om hul kos te geniet aangesien hulle voorheen buite moes eet, selfs in koue weerstoestande. Boonop het die skool ‘n mooi nuwe voorkoms aangesien dit geverf is.”