KANGNAS-WINDKRAGAANLEG SKAKEL HOOFTRANSFORMATOR AAN |
September 2020.
Die 140MW Kangnas-windkragaanleg, aan die buitewyke van Springbok, het vandeesweek die suksesvolle aanskakeling van sy hooftransformator gevier.
“Ons is dankbaar dat die konstruksiespan, wat uit 87 mense bestaan en aan die windkragaanleg, sowel as die Groeipunt-substasie gewerk het, so ywerig gewerk het sodat ons die substasie kon aanskakel. Hierdie is ’n belangrike mylpaal in die konstruksieproses en bring ons een stap nader aan die voltooiing van die projek,” het Manie Kotzé, konstruksiebestuurder by Kangnas-windkragaanleg gesê.
Die vraag na plaaslike vervaardigers wat komponente kan verskaf wat voorheen ingevoer is, het geleidelik toegeneem. Dit is in lyn met die Departement van Energie se vereistes vir plaaslike inhoud wat tydens elke bodvenster geleidelik toegeneem het.
Konstruksie van die Kangnas-winkragaanleg is soos ander konstruksieprojekte ook tydens die COVID-19-inperkingstyd, wat aan die einde van Maart in werking getree het, gestaak. Die konstruksieproses is sedert 19 Mei geleidelik hervat.
“Ons span werk hard om soveel as moontlik van die werk wat gedurende hierdie tyd stilgestaan het in te haal. Ons verwag dat daar in die volgende paar weke begin sal word om die windkragaanleg met die kragnetwerk te koppel en dat toetsing gedoen sal word,” het Kotzé bygevoeg.
Meer inligting is by die Kangnas-windkragaanleg se webtuiste by https://kangnaswind.co.za beskikbaar.