KONSTRUKSIE SNEL VOLSTOOM VOORT |
August 2019
Die Kangnas-windkragaanleg sal wanneer dit voltooi is ’n opwekkingskapsiteit van 140 MW hê en een van Suid-Afrika se grootste windkragaanlegte wees. Die windkragaanleg is in die Noord-Kaap, in die noordwestelike hoek van Suid-Afrika, geleë. Die terrein rondom die windkragaanleg is tipies van die Springbok-vlakte en die Karoo-vanggebied. Die klipperige onderlaag wat in die gebied voorkom word gebruik om 80% van die windkragaanleg se fondamente van te vervaardig.
Die windkragaanleg, wat geskeduleer is om teen die einde van volgende jaar voltooi te wees, sal met behulp van 61 windturbines genoeg skoon hernubare energie opwek om 120 000 Suid-Afrikaanse huise van krag te voorsien. Elkeen van die windkragaanleg se 61 windturbines troon 115 m hoog. Hierdie indrukwekkende masjiene wek skoon energie op sonder om enige koolstofgasse vry te stel. Geen water word tydens kragopwekking gebruik nie, wat belangrik is in ’n droogtegebied soos die Noord-Kaap.
Die Kangnas-windkragaanleg het onlangs twee noemenswaardige mylpale in die konstruksieproses behaal. Die laaste fondament is pas voltooi en die eerste van 61 windturbines is opgerig. Albei hierdie mylpale is betyds en binne begroting voltooi.
Die ophysing van die eerste windturbine is ’n belangrike mylpaal in die konstruksie van die windkragaanleg. Die volgende groot mylpaal sal wees wanneer die hoof transformator by die windkragaanleg aankom en die substasie aangeskakel word. Indien weerstoestande gunstig is neem dit bykans ’n dag om ’n windturbine aan mekaar te sit. Dit neem ongeveer ses uur om die boonste gedeelte van die toring, die gondel en die draaivlerk op te hys en ’n bykomende drie uur om alles voor te berei vir die ophysing.
Dit is ’n taamlik ingewikkelde proses om die turbines op te hys. Een hyskraan word gebruik om die draaivlerk van ongeveer 106 meter in deursnit op te hys terwyl ’n tweede hyskraan ondersteuning bied. Hierdie prosedure verg uitsonderlike vaardigheid en is merkwaardig om te aanskou.
Die 61ste fondament is terselfdertyd op die perseel gegiet en die windkragaanleg is goed op dreef om teen die einde van 2020 in bedryf gestel te word.
Die windkragaanleg bied tans werk aan meer as 265 mans en vroue uit die gemeenskap van Springbok. Die konstruksiefase van die projek verg meer arbeid as enige ander fase.
Benewens die honderde werkgeleenthede wat tydens die konstruksiefase geskep word bied die Kangnas-windkragaanleg ook droogteverligtingshulp aan plaaslike boere wat tans gebuk gaan onder ’n droogte wat reeds die afgelope vyf jaar voortwoed.
Die windkragaanleg help skaap- en veeboere van die Springbok-omgewing wat sukkel om kop bo water te hou. Die ontluikende boere, wat aan die Boesmanland-boerevereniging behoort, sukkel al vir ’n geruime tyd om hul kuddes te voer weens ’n geweldige afname in reënval in die streek.
Skoolprogram:
Honderde skoolleerlinge van die Springbok-omgewing leer danksy die Kangnas-windkragaanleg se bewusmakingsveldtog oor hernubare energie meer oor skoner maniere om krag op te wek. Die veldtog is ontwerp om leerlinge meer oor die hernubare energiesektor te leer. Die windkragaanleg het die veldtog twee maande gelede van stapel gestuur om leerlinge se begrip van groenenergie te verbreed, met die klem wat op windkrag.
Sodra die Kangnas-windkragaanleg voltooi is sal skole ook die geleentheid kry om die windkragaanleg te besoek sodat leerlinge kan sien watter loopbaangeleenthede daar in hierdie opwindende sektor is.
Hernubare energie in die Noord-Kaap:
Die Noord-Kaap huisves meer as die helfte van die land se 112 hernubare energieverskaffers. Altesaam 19 van hierdie projekte is reeds aan die nasionale kragnetwerk gekoppel. Buiten die feit dat meer as 60% van Suid-Afrika se onafhanklike kragvoorsieners in dié provinsie gehuisves word spog die Noord-Kaap ook met die meeste sonkrag- en windkragaanlegte, wat getuig van die ontsaglike son- en windkrag-hulpbronne wat in die gebied voorkom.
Net so belangrik as wat die opwekking van skoon hernubare energie vir die land is bring henubare-energieprojekte soos die Kangnas-windkragaanleg ook werk, beleggings, eienaarsbelang, vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese ontwikkeling aan plaaslike gemeenskappe in die Noord-Kaap. Volgens die Departement van Energie het die hernubare-energiesektor sedert Maart 2018 gehelp om bykans 24 000 werksgeleenthede te skep.