SPRINGBOK JEUG BEMAGTIG DEUR HERNUBARE ENERGIE INTERNSKAP |
Maart 2024.
Tyreeq Engelbrecht, van Springbok, maak vordering in die hernubare energiesektor deur ‘n internskap by Kangnas-windkragaanleg. Hierdie geleentheid is deel van ‘n breër inisiatief om vaardighede te ontwikkel, noodsaaklik vir die groeiende hernubare energiebedryf en nasionale ekonomiese vooruitgang, terwyl plaaslike jeug ontwikkel.
Tyreeq, ‘n uitblinker van die windplaas se Beyond Matric-program, doen nou onskatbare ervaring op onder leiding van Brenda Sidaki, Aanlegbestuurder, en fokus op verskeie operasionele aspekte van windplaasbestuur. Hierdie internskap strook met die Wind Industry Internship Program (WIIP), ‘n samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (SAWEA) en die Energie- en Watersektor Onderwys- en Opleidingsowerheid (EWSETA), wat daarop gemik is om onlangse gegradueerdes met praktiese ervaring in volhoubare energie oplossings, toe te rus.
“Hierdie inisiatief stel interns in staat om met ervare mense te netwerk en hul vaardighede op te skerp voordat hulle die arbeidsmag betree. Dit help ook hierdie jongmense om hul passie te vind, bedryfservaring op te doen en hul CV’s ‘n hupstoot te gee. Soos die windenergiesektor groei, sal meer geleenthede ontstaan, wat voorbereide en gekwalifiseerde jong professionele persone vereis,” het Rouchet Daniels, Ekonomiese Ontwikkelingsbestuurder van Kangnas-windkragaanleg, gesê.
As ‘n Operasionele Aanleg Intern sal Tyreeq, wat ‘n intern by die windplaas is, verskeie verantwoordelikhede onderneem, insluitend Veiligheid, Gesondheid, Omgewing, en Kwaliteit (SHEQ) bestuur; Tegniese Prestasiemonitering; Finansies-, Kontrakte- en Bestuurstake; asook Administrasie pligte.
“Die hoogtepunt van die opleiding was die fokus op leierskapsvaardighede, wat my geïnspireer het om beheer oor my toekoms te neem. Met die ondersteuning van die Aanlegbestuurder en span hoop ek om uit te blink in my doelwitte en om uiteindelik my werkplekmodules te voltooi wat my in staat sal stel om my rooiseëlsertifikaat en diploma in elektriese ingenieurswese te verwerf. As ek vorentoe kyk, is ek gretig om ‘n loopbaan in hernubare energie te volg,” het Tyreeq uitgespreek.